On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor and Margaret
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Human Interest

Drie jong pianiste uit Oos-VS die room van Suid-Afrika op kompetisie

───   10:52 Mon, 24 Oct 2016

Drie jong pianiste uit Oos-VS die room van Suid-Afrika op kompetisie | News Article
Swunhtat Oo van Harrismith en prof. Joseph Stanford van Pretoria (Foto verskaf)

Bethlehem - Geskiedenis is gemaak toe nie minder nie as drie jong pianiste van die Oos-Vrystaat met dartelende vingers, groot onderskeiding en oortuigende voordragte die eindronde van die Nasionale Atterbury-musiekkompetisie gehaal het.


Hulle is Vrydagaand op die gala-konsert in Pretoria in die enigste drie afdelings van die kompetisie as die wenners gekroon. Wat die prestasie merkwaardig maak, is dat 36 ander jong pianiste van regoor Suid-Afrika teen mekaar meegeding het en dat die musikale room uit die Oos-Vrystaat kom.

Die bekroonde pianiste is Beate Boshoff van Hoërskool Voortrekker in Bethlehem (leerling van Jenny Reed van Bethlehem) in die o.15-afdeling, Dané van Graan van die Primêre Skool Harrismith (ook ‘n leerling van Reed) in die o.12-afdeling, en Swunhtat Oo, van Harriston School in Harrismith (‘n leerling van prof. Joseph Stanford van Pretoria) in die 0.19-afdeling.

Oo het skoonskip gemaak in sy afdeling en is as die algehele wenner van die kompetisie met ‘n prysgeld van R30 000 aangewys. Hy het bykomende geldpryse gewen as wenner van sy afdeling, naamlik die Hennie Joubert-prys, die uitvoering van die beste werk uit die Romantiese tyd van die musiekgeskiedenis, asook die beste voordraer van ‘n moderne werk. As finalis in die half- en eindrondes wen hy nog geldpryse. Sy kommentaar: “What a stressful week it has been! All praise and glory to God! Thank you to everyone for all your love, support and prayers! Dreams dó come true …”

Claudine van Breda, stigterslid van die Atterbury-musiekkompetisie, het aan OFM-nuus gesê wat dié kompetisie so gesog maak, is dat dit die enigste nasionale musiekkompetisie is wat spesifiek op pianiste gerig is. Jong spelers kan op gelyke vlak met mekaar meeding vir die klavierpryse sonder om met ander musiekinstrumente mee te ding. Die kompetisie bied ook meer afdelings vir deelname as enige ander kompetisie in die land. ‘n Wenprys van R30 000 was beskikbaar vir die algehele wenner terwyl nog R80 000 beskikbaar was vir uitblinkers.

Die kompetisie is moontlik gemaak deur die Atterbury-trust wat onder meer daarop toegespits om kuns en kultuur in Suid-Afrika te ontwikkel en te bevorder, sê Van Breda. Sy het die Oos-Vrystaatse leerlinge vir hul voordragte geprys en veral na Oo verwys vir voordragte wat deurgaans bestendig van uitstaande en briljante gehalte was. Sy het met waardering verwys na sy voormalige Bethlehemse onderwyser, Beulah van Aswegen, wat in sy sukses kan deel omdat hy so ‘n goeie grondslag by haar ontvang het waarop prof. Stanford nou kan voortbou.

OFM-nuus het met Jenny Reed van Bethlehem, onderwyser van twee van die afdelingswenners, gesels. Sy sê sy is oorweldig deur die uitkoms van die kompetisie en trots dat al drie wenners, waaronder die algehele wenner, Oos-Vrystaters is.

“Ek is baie trots op my eie leerlinge - Beate en Dané. Daar lê ‘n blink toekoms voor vir dié twee sterre. Hulle het so hard gewerk en is nou daarvoor beloon. Alle eer egter aan die Here. Dit is ‘n groot plesier om met hulle te werk. Ons is nog besig om van al die opwinding en blydskap te herstel,” het Reed gesê.

Susan Maré/OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.