GEORGE NUUS - Ná 'n proefneming met paalplakkers by bushaltes vroeër vanjaar, kon GO GEORGE verlede week die volgende ronde plakkers met roete-inligting by die bushaltes op Roete 56 Denneoord - CBD aanbring.
Die wit plastiekkassies aan die pale is ontwerp om vinielplakkers met roete-inligting te dra.
Elke bushalte het sy eie stel plakkers wat slegs die tydrooster en roetekaarte van roetes wat by daardie halte stop, toon.
Aan die een kant is 'n lynkaart van die roetes wat by daardie bepaalde halte stilhou, en 'n stelselkaart wat die passasier 'n oorsig gee van waar die verskillende roetes loop en waar hulle kan oorklim tussen roetes om hul bestemming te bereik.
Die ander kant van die paalplakker toon die volledige tydroosters vir al die roetes wat by daardie bushalte stop.
Terugvoer ná die vorige toetsronde het tot een groot verbetering gelei, met elke bushalte se paalplakker wat nou die presiese vertrektye vanaf daardie spesifieke halte bevat.
Die voriges het die vertrektye by die beginpunt van die roete aangedui, sodat passasiers moes bereken hoe laat die bus naastenby by hul stop sou wees.
Tydroosters en roetekaarte was nog altyd beskikbaar op die GO GEORGE-webblad, maar om hulle nou beskikbaar te hê by die bushalte waar almal dit kan sien, sal passasiers in staat stel om hul ritte beter te beplan, veral as hulle nie gereelde busgebruikers is nie, of nie bekend is met die roete nie.
Paalplakkers vir die res van die huidige aktiewe roetes sal in die nuwe jaar aangebring word.
Vir enige busverwante navrae, skakel gerus die GO GEORGE-inbelkantoor by 0800 044 044, besoek die Facebook-blad of gaan na die webblad by www.gogeorge.org.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'